4 As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou — dan sê die Here van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die Here vertoornd is tot in ewigheid!
5 En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die Here oor die gebied van Israel!
6 ’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?
7 Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die Here is veragtelik.
8 En as julle ’n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ’n lam of ’n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die Here van die leërskare.
9 Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke dinge is deur julle gedoen — sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die Here van die leërskare.
10 Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die Here van die leërskare, en in ’n offer uit julle hand het Ek geen behae nie.