9 Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke dinge is deur julle gedoen — sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die Here van die leërskare.
10 Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die Here van die leërskare, en in ’n offer uit julle hand het Ek geen behae nie.
11 Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en ’n rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die Here van die leërskare.
12 Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die Here is verontreinig, en wat sy opbrings betref — sy spys is veragtelik.
13 En julle sê: Kyk, wat ’n moeite! En julle verag dit, sê die Here van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere — so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die Here.
14 Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee ’n manlike dier is, ’n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die Here offer; want Ek is ’n groot Koning, sê die Here van die leërskare, en my Naam is gedug onder die heidene.