1 DIE woord van die Here wat tot Miga, die Morastiet, gekom het, in die dae van Jotam, Agas, Hiskía, konings van Juda; wat hy gesien het aangaande Samaría en Jerusalem.
2 o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here Here getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis.
3 Want kyk, die Here gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde.
4 En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom!
5 Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis van Israel. Wie is die oorsaak van die oortreding van Jakob? Is dit nie Samaría nie? En wie is die oorsaak van die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie?
6 Daarom sal Ek Samaría ’n puinhoop maak op die veld, ’n plek om wingerdstokke te plant; en Ek sal haar klippe in die dal laat afrol en haar fondamente blootlê.
7 En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot ’n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer.