7 En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot ’n verwoesting maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer.
8 Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die jakkalse en treur soos die volstruise.
9 Waarlik, haar wonde is ongeneeslik; want dit het gekom tot by Juda, dit reik tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem.
10 Moet dit nie in Gat vertel nie, ween daar ganselik nie! In Bet-Ofra het ek my in die stof gewentel!
11 Trek weg in smadelike naaktheid, o inwoners van Safir! Die inwoners van Saänan trek nie uit nie. Die weeklagte van Bet-Haësel sal julle daar die verblyf ontneem.
12 Want die inwoners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal van die Here na die poort van Jerusalem.
13 Span die perde voor die wa, o inwoners van Lagis! Dit was die begin van sonde vir die dogter van Sion, dat die oortredinge van Israel in jou gevind is.