3 Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal ’n tyd van onheil wees!
4 In dié dag sal hulle ’n spotlied oor julle aanhef en ’n klaaglied sing: Dit is gedaan — sal hulle sê — ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons velde uit.
5 Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in ’n erfdeel in die vergadering van die Here nie.
6 Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As ’n mens hieroor nie mag profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie!
7 Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die Here dan ongeduldig wees? Of is dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?
8 Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree. Julle pluk die mantel af, weg van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog.
9 Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid.