11 En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion.
12 Maar hulle ken nie die gedagtes van die Here nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer.
13 Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins aan die Here toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde.
14 Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het ’n wal teen ons opgegooi; met ’n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.