10 Maar Juda het gesê: Die krag van die lasdraers beswyk, en die puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie.
11 En ons teëstanders het gesê: Hulle mag niks weet en sien nie totdat ons tussen hulle inkom en hulle doodslaan en ’n einde maak aan die werk.
12 En toe die Jode wat by hulle gewoon het, inkom en wel tien maal, uit al die plekke, aan ons sê: Julle moet na ons toe terugkom —
13 het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë.
14 En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.
15 En toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het, en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk.
16 En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk, en die ander helfte het die spiese en die skilde en die boë en die pantsers gehou, terwyl die owerstes agter die hele huis van Juda gestaan het.