10 Daarop het Nehemía — hy was die goewerneur — en Esra, die priester, die skrifgeleerde, en die Leviete wat die volk onderrig, aan die hele volk gesê: Hierdie dag is heilig aan die Here julle God; treur nie en ween nie! Want die hele volk het geween toe hulle die woorde van die wet hoor.
11 Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse Here. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die Here — dit is julle beskutting.
12 En die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en gesê: Wees stil! want hierdie dag is heilig; wees dus nie bedroef nie.
13 Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is.
14 En op die tweede dag het die familiehoofde van die hele volk, die priesters en die Leviete by Esra, die skrifgeleerde, vergader om naamlik die woorde van die wet te ondersoek.
15 Toe vind hulle uit dat in die wet wat die Here deur die diens van Moses beveel het, geskrywe was dat die kinders van Israel op die fees in die sewende maand in hutte moes woon,
16 en dat hulle moes afkondig en rondstuur deur al hulle stede en in Jerusalem om te sê: Trek uit op die gebergte en bring olyftakke en oliewenhouttakke en mirtetakke en palmtakke en takke van digte bome om hutte te maak soos geskrywe is.