1 EN die volk het hulle voor die ore van die Here beklaag dat dit sleg gaan. En toe die Here dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die Here het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer.
2 Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die Here gebid; en die vuur het doodgegaan.
3 Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die Here onder hulle gebrand het.
4 EN die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet?
5 Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.
6 Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.
7 Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom.