21 Want daar is ’n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei het; tog moet hy dit as deel oorgee aan ’n mens wat daaraan geen moeite bestee het nie. Ook dit is tevergeefs en ’n groot euwel.
22 Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee hy hom vermoei onder die son?
23 Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.
24 Dit is nie ’n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom uit die hand van God.
25 Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?
26 Want aan ’n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van God. Ook dit is tevergeefs en ’n gejaag na wind.