8 Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en ’n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte.
9 En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly.
10 En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.
11 Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het — en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.
12 Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat lankal gedoen is!
13 Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die lig die voorkeur het bo die duisternis:
14 die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.