1 EN Jefta, die Gileadiet, was ’n dapper held, maar hy was die seun van ’n hoer; en Gílead was die vader van Jefta.
2 En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe nie, want jy is die seun van ’n ander vrou.
3 Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek.
4 En ’n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel.
5 Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob;
6 en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen die kinders van Ammon.
7 Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in die benoudheid sit?