11 So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die Here in Mispa gespreek.
12 Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg?
13 En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta: Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug.
14 En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van Ammon
15 en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie geneem nie.
16 Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom.
17 En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly.