1 EN die manne van Efraim is saamgeroep en het oorgetrek na Safon toe en vir Jefta gesê: Waarom het u deurgetrek om teen die kinders van Ammon te veg en óns nie geroep om saam met u te trek nie? Ons sal u huis bo u met vuur verbrand.
2 Maar Jefta sê vir hulle: Ek en my volk het ’n hewige twis met die kinders van Ammon gehad, en ek het julle opgeroep, maar julle het my nie uit hulle hand verlos nie.
3 En toe ek sien dat jy nie help nie, het ek my lewe gewaag en deurgetrek na die kinders van Ammon; en die Here het hulle in my hand gegee. Waarom het julle dan vandag teen my opgetrek om teen my oorlog te voer?
4 Daarop versamel Jefta al die manne van Gílead om teen Efraim te veg; en die manne van Gílead het Efraim verslaan, omdat hulle gesê het: Julle, Gileadiete, is vlugtelinge van Efraim, in die midde van Efraim en Manasse.
5 En Gílead het die Efraimiete van die Jordaan-driwwe afgesny; en as die vlugtelinge van Efraim sê: Ek wil deurgaan — dan vra die manne van Gílead vir hom: Is jy ’n Efraimiet? As hy sê: Nee,
6 dan vra hulle hom: Sê bietjie: Sjibbolet! En as hy sê: Sibbolet! en nie ag gee om dit reg uit te spreek nie, dan gryp hulle hom en maak hom by die Jordaan-driwwe dood. So het daar dan in dié tyd van Efraim twee-en-veertigduisend man geval.