1 EN toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die Here, het die Here hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank.
2 En daar was ’n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie.
3 Maar die Engel van die Here het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en ’n seun baar.
4 Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie.
5 Want kyk, jy sal swanger word en ’n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof kom nie; want die seun sal van die moederskoot af ’n nasireër van God wees, en hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne.
6 Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: ’n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy my nie meegedeel nie.
7 Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en ’n seun baar; drink dan nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seun sal ’n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood toe.