17 En hy het sy hele hart aan haar bekend gemaak en aan haar gesê: Daar het nooit ’n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is ’n nasireër van God van my moeder se skoot af: as ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak word en wees soos al die mense.
18 Toe Delíla sien dat hy sy hele hart aan haar bekend gemaak het, laat sy die vorste van die Filistyne roep en sê: Kom hierdie keer op, want hy het sy hele hart aan my bekend gemaak. Toe kom die vorste van die Filistyne na haar op en bring die geld met hulle saam.
19 En sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak en ’n man geroep en die sewe haarvlegsels van sy hoof afgeskeer. En sy het begin om hom te bedwing, en sy krag het van hom gewyk.
20 Toe sê sy: Die Filistyne op jou, Simson! En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie.
21 Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.
22 Maar die hare van sy hoof het weer begin groei sodra dit afgeskeer was.
23 En die vorste van die Filistyne het vergader om ’n groot offer te bring aan hulle god Dagon en om vrolik te wees; en hulle het gesê: Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.