23 En die vorste van die Filistyne het vergader om ’n groot offer te bring aan hulle god Dagon en om vrolik te wees; en hulle het gesê: Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.
24 En toe die volk hom sien, prys hulle hul god; want hulle het gesê: Ons god het ons vyand en die rinneweerder van ons land, wat ook baie van ons laat sneuwel het, in ons hand gegee.
25 En toe hulle hart vrolik was, sê hulle: Roep Simson, dat hy vir ons speel; en hulle het Simson uit die gevangenis geroep; en hy het voor hulle gespeel, en hulle het hom tussen die pilare laat staan.
26 Daarop sê Simson aan die dienaar wat hom aan die hand hou: Laat my staan, en laat my die pilare betas waar die huis op rus, dat ek daarteen kan leun.
27 En die huis was vol manne en vroue, en al die vorste van die Filistyne was daar, en op die dak omtrent drieduisend manne en vroue wat kyk hoe Simson speel.
28 Toe roep Simson die Here aan en sê: Here, Here, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God, dat ek my oor een van my twee oë op die Filistyne kan wreek!
29 En Simson slaan sy arms om die twee middelste pilare waar die huis op gerus het, die een met sy regter — en die ander met sy linkerhand, en leun teen hulle aan.