2 Dié het aan sy moeder gesê: Die elfhonderd sikkels silwer wat van u geneem is en waaroor u ’n vloek uitgespreek het en dit ook voor my ore gesê het — hier is die geld by my, ék het dit geneem. Toe sê sy moeder: Mag jy geseënd wees deur die Here, my seun!
3 En hy het aan sy moeder die elfhonderd sikkels silwer teruggegee. Maar sy moeder het gesê: Ek heilig plegtig die geld aan die Here; uit my hand is dit vir my seun om ’n gesnede en ’n gegote beeld te maak; ek sal dit dan nou aan jou teruggee.
4 Toe hy dan die geld aan sy moeder teruggegee het, neem sy moeder tweehonderd sikkels silwer en gee dit aan ’n goudsmid; en hy het daar ’n gesnede en ’n gegote beeld van gemaak wat in die huis van Miga gekom het.
5 Die man Miga het naamlik ’n godshuis gehad, en hy het ’n skouerkleed en huisgode gemaak en een van sy seuns aangestel om vir hom priester te wees.
6 In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.
7 En daar was ’n jongman van Betlehem-Juda, uit die geslag van Juda; hy was ’n Leviet wat daar as vreemdeling vertoef het.
8 En die man het uit die stad, uit Betlehem-Juda, getrek om te vertoef waar hy plek kon kry; en op sy reis het hy in die gebergte van Efraim gekom tot by die huis van Miga.