26 En teen dagbreek het die vrou gekom en neergeval voor die ingang van die man se huis waar haar heer was, totdat dit lig was.
27 En toe haar heer die môre opstaan en die huisdeure oopmaak en uitgaan om sy reis voort te sit — kyk, daar lê die vrou, sy byvrou, voor die ingang van die huis met haar hande op die drumpel.
28 En hy sê vir haar: Staan op en laat ons trek; maar niemand antwoord nie. Daarop het hy haar op die esel gelaai, en die man het klaargemaak en na sy woonplek getrek.
29 Maar toe hy in sy huis kom, het hy ’n mes geneem en sy byvrou gegryp en haar stukkend gesny volgens haar gebeente in twaalf stukke en dit in die hele grondgebied van Israel rondgestuur.
30 En elkeen wat dit sien, het gesê: So iets het nie gebeur en is nie gesien van die dag af dat die kinders van Israel uit Egipteland opgetrek het tot vandag toe nie; neem dit tog ter harte, gee raad en spreek!