1 TOE trek die Engel van die Here van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met ’n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie;
2 maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen?
3 So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode ’n strik vir julle.
4 En terwyl die Engel van die Here met hierdie woorde al die kinders van Israel toespreek, het die volk hulle stem verhef en geween;
5 en hulle het dié plek Bogim genoem en daar aan die Here geoffer.
6 DAARNA het Josua die volk laat gaan, en die kinders van Israel het elkeen na sy erfdeel getrek om die land in besit te neem.