10 En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ’n ander geslag ná hulle op wat die Here en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie.
11 En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien
12 en die Here, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die Here geterg.
13 Maar toe hulle die Here verlaat en die Baäl en die Astártes dien,
14 het die toorn van die Here teen Israel ontvlam, en Hy het hulle oorgegee in die hand van rowers wat hulle beroof het; en Hy het hulle verkoop in die hand van hulle vyande rondom, sodat hulle nie meer kon standhou voor hulle vyande nie.
15 Waarheen hulle ook al uittrek, was die hand van die Here teen hulle ten kwade, soos die Here gespreek en soos die Here vir hulle gesweer het. Maar wanneer hulle dan in groot benoudheid raak,
16 verwek die Here rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers.