1 MAAR ná die dood van Ehud het die kinders van Israel weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.
2 Daarom het die Here hulle verkoop in die hand van Jabin, die koning van Kanaän, wat in Hasor geregeer het; en sy leërowerste was Sísera, ’n inwoner van Haróset van die heidene.
3 En die kinders van Israel het die Here aangeroep; want hy het negehonderd ysterwaens gehad en die kinders van Israel twintig jaar lank swaar verdruk.
4 En Debóra, ’n profetes, die vrou van Láppidot, het in dié tyd Israel gerig;
5 en sy het gesit onder die palm van Debóra, tussen Rama en Bet-el, op die gebergte van Efraim; en die kinders van Israel het na haar opgegaan vir regspraak.
6 Toe laat sy Barak, die seun van Abinóam, uit Kedes in Náftali, roep en sê vir hom: Het die Here, die God van Israel, nie bevel gegee nie: Gaan, trek na die berg Tabor, en neem tienduisend man van die kinders van Náftali en van die kinders van Sébulon met jou saam?