1 TOE sê die manskappe van Efraim vir hom: Wat is dit wat u ons aangedoen het, dat u ons nie geroep het toe u weggetrek het om teen die Midianiete te veg nie? En hulle het heftig met hom getwis.
2 Maar hy sê vir hulle: Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle? Is die na-oes van Efraim nie beter as die wynoes van Abiëser nie?
3 God het die vorste van Mídian, Oreb en Seëb, in julle hand gegee, maar wat kon ek doen in vergelyking met julle? Toe bedaar hulle opgewondenheid teenoor hom nadat hy hierdie woord gespreek het.
4 En Gídeon het gekom by die Jordaan, en hy en die driehonderd man wat by hom was, het oorgetrek, moeg en besig om te agtervolg.
5 En hy sê aan die manne van Sukkot: Gee tog broodjies vir die manskappe wat op my voetspore volg, want hulle is moeg, en ek is besig om Seba en Sálmuna, die konings van die Midianiete, agterna te jaag.
6 Maar die vorste van Sukkot vra: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al in u hand, dat ons aan u leër brood moet gee?
7 Toe sê Gídeon: Daarom, as die Here Seba en Sálmuna in my hand gee, sal ek julle vlees met woestyndorings en distels dors.