2 Spreek tog voor die ore van al die burgers van Sigem: Wat is vir julle beter — dat sewentig man, almal seuns van Jerúbbaäl, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? En dink daaraan dat ek julle gebeente en julle vlees is.
3 Toe die broers van sy moeder al hierdie woorde voor die ore van al die burgers van Sigem oor hom spreek, het hulle hart Abiméleg gevolg; want hulle het gesê: Hy is ons broer.
4 Hulle het hom toe sewentig sikkels silwer uit die huis van Baäl-Berít gegee, en daarmee het Abiméleg ydele en ligsinnige manne gehuur, en hulle het hom gevolg.
5 En hy het in die huis van sy vader gegaan, in Ofra, en sy broers, die seuns van Jerúbbaäl, sewentig man, op een klip vermoor; maar Jotam, die jongste seun van Jerúbbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip.
6 Daarop het al die burgers van Sigem en die hele huis Millo bymekaargekom en Abiméleg gaan koning maak by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is.
7 Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerísim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en aan hulle gesê: Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na julle kan luister.
8 Eendag het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf en aan die olyfboom gesê: Wees koning oor ons!