28 Toe sê Gaäl, die seun van Ebed: Wie is Abiméleg — en wat is Sigem — dat ons hom sou dien? Is hy nie die seun van Jerúbbaäl, en is Sebul nie sy stadsbestuurder nie? Dien die manne van Hemor, die vader van Sigem, maar waarom moet óns hom dien?
29 Ag, was hierdie volk maar in my hand, dan sou ek Abiméleg wegjaag! En met die oog op Abiméleg het hy gesê: Vermeerder maar jou leër en trek uit!
30 Toe Sebul, die owerste van die stad, die woorde van Gaäl, die seun van Ebed, hoor, het hy kwaad geword
31 en listig boodskappers na Abiméleg gestuur om te sê: Kyk, Gaäl, die seun van Ebed, met sy broers, het in Sigem gekom, en kyk, hulle maak die stad teen u op.
32 Maak dan nou in die nag klaar, u met die manskappe wat by u is, en stel ’n hinderlaag op in die veld.
33 Dan kan u in die môre vroeg as die son uitkom, u gereed hou en ’n aanval teen die stad maak; en as hy met die manskappe wat by hom is, uittrek na u toe, handel dan met hom na bevind van sake.
34 Daarop het Abiméleg en al die manskappe wat by hom was, in die nag klaargemaak en hinderlae in vier dele by Sigem opgestel.