4 Hulle het hom toe sewentig sikkels silwer uit die huis van Baäl-Berít gegee, en daarmee het Abiméleg ydele en ligsinnige manne gehuur, en hulle het hom gevolg.
5 En hy het in die huis van sy vader gegaan, in Ofra, en sy broers, die seuns van Jerúbbaäl, sewentig man, op een klip vermoor; maar Jotam, die jongste seun van Jerúbbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip.
6 Daarop het al die burgers van Sigem en die hele huis Millo bymekaargekom en Abiméleg gaan koning maak by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is.
7 Toe hulle dit aan Jotam meedeel, het hy op die top van die berg Gerísim gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en aan hulle gesê: Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na julle kan luister.
8 Eendag het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf en aan die olyfboom gesê: Wees koning oor ons!
9 Maar die olyfboom het vir hulle gesê: Sou ek my vettigheid opgee wat God en die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe?
10 Toe sê die bome vir die vyeboom: Kom jy, wees koning oor ons.