49 Daarop kap al die manskappe ook elkeen sy tak af en hulle volg Abiméleg en gooi dit op die kelder en steek die kelder bo-op hulle aan die brand, sodat ook al die mense van die Sigemstoring, omtrent duisend manne en vroue, gesterf het.
50 Daarna het Abiméleg na Tebes getrek en Tebes beleër en dit ingeneem.
51 Maar in die middel van die stad was ’n sterk toring; en daarheen het al die manne en vroue en al die burgers van die stad gevlug, en hulle het agter hulle toegesluit en bo-op die dak van die toring geklim.
52 En Abiméleg het gekom tot by die toring en daarteen geveg; maar toe hy nader kom tot by die ingang van die toring om dit met vuur te verbrand,
53 gooi ’n vrou die boonste meulsteen op die hoof van Abiméleg en verbrysel sy skedel.
54 Toe roep hy gou die dienaar, sy wapendraer, en sê vir hom: Trek jou swaard uit en maak my van kant, dat hulle nie van my kan sê: ’n Vrou het hom gedood nie. Daarop het sy dienaar hom deurboor, en hy het gesterwe.
55 En toe die manne van Israel sien dat Abiméleg dood was, het hulle elkeen na sy woonplek gegaan.