6 En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.
7 En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was dan die bekragtiging in Israel.
8 Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen uitgetrek.
9 Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop.
10 En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies.
11 Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die Here die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak ’n naam in Betlehem!
12 En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het — uit die nageslag wat die Here jou uit hierdie jong vrou sal gee!