1 OPEN jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer!
2 Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is! Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is.
3 Hoor! die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes. Hoor! die geknor van die jong leeus, want die pronkbosse van die Jordaan is verwoes.
4 SO sê die Here my God: Wees herder van die slagskape —
5 hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die Here; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle nie.
6 Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek die Here; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle hand nie red nie.
7 En ek het die slagskape — waarlik ellendige skape! — opgepas; en ek het vir my twee stawe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas.