1 EN die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos ’n man wat uit die slaap opgewek word.
2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar ’n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is.
3 Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.
4 Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?