15 so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda. Wees nie bevrees nie.
16 Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ’n regspraak van vrede in julle poorte!
17 En julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie, en nie die valse eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die Here.
18 En die woord van die Here van die leërskare het tot my gekom en gesê:
19 So sê die Here van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda ’n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê.
20 So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede.
21 En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan!