9 So sê die Here van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe die fondament gelê is van die huis van die Here van die leërskare, die tempel, om gebou te word.
10 Want vóór hierdie dae het die mense geen loon getrek nie, ook vir die diere was daar geen loon nie; en vir die wat uit- en ingaan, was daar weens die teëstander geen veiligheid nie; want Ek het al die mense die een teen die ander losgelaat.
11 Maar nou sal Ek vir die oorblyfsel van hierdie volk nie wees soos in vroeër dae nie, spreek die Here van die leërskare.
12 Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.
13 En soos julle ’n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle ’n seën kan wees. Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees.
14 Want so sê die Here van die leërskare: Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die Here van die leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie —
15 so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda. Wees nie bevrees nie.