8 En Ek sal om my huis ’n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie; want nou het Ek dit met my eie oë gesien.
9 VERHEUG jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel — op ’n jong esel, die vul van ’n eselin.
10 En Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.
11 Ook sal Ek, wat jou betref, o Sion, kragtens die bloed van jou verbond jou gevangenes loslaat uit die put sonder water.
12 Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed.
13 Want Ek span Juda vir My as boog, lê Efraim as pyl daarop; en Ek vuur jou seuns, o Sion, aan teen jou seuns, o Jawan, en Ek maak jou soos die swaard van ’n held.
14 Dan sal die Here oor hulle verskyn, en soos weerlig sal sy pyl uitskiet; en die Here Here sal met die basuin blaas en intrek met die storms uit die suide.