1 ’n VALSE weegskaal is vir die Here ’n gruwel, maar in ’n volle gewig het Hy behae.
2 Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.
3 Die regskapenheid van die opregtes is vir hulle ’n leier, maar die valsheid van die ontroues vernietig hulle.
4 Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.
5 Die geregtigheid van die regskapene maak sy weg gelyk, maar die goddelose val deur sy goddeloosheid.
6 Die geregtigheid van die opregtes red hulle, maar deur hulle eie begeerlikheid word die ontroues gevang.