22 Valse lippe is vir die Here ’n gruwel, maar Hy het ’n welbehae in die wat getrou handel.
23 ’n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit.
24 Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid.
25 Bekommernis in die hart van ’n mens druk dit neer, maar ’n vriendelike woord vrolik dit op.
26 Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal.
27 Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is ’n kosbare skat vir ’n mens.
28 Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van dié pad is onsterflikheid.