15 Daar is goud en ’n menigte korale, maar ’n kosbare sieraad is die lippe van kennis.
16 Neem sy kleed weg, want hy het vir ’n ander borg gestaan, en neem hom as pand vir die vreemdes.
17 Soet is vir ’n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.
18 Planne kom deur beraadslaging tot stand; voer dan oorlog met goeie oorleg.
19 Wie met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.
20 Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.
21 ’n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is — die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie.