1 Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie.
2 Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.
3 Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom.
4 Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees.
5 Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.
6 Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan 'n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan.
7 Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.