9 Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.
10 Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.
11 Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.
12 Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in die besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Daarin is ons nie deur die wysheid van mense gelei nie, maar deur die genade van God.
13 In ons briewe skryf ons aan julle niks wat julle nie self kan lees en verstaan nie. Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan.
14 Tot nou toe het julle ons maar gedeeltelik verstaan. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal julle dan net so trots op ons wees soos ons op julle.
15 Dit was in hierdie oortuiging dat ek vroeër die plan gemaak het om julle te besoek, sodat julle twee keer 'n bewys van genade kon ontvang.