12 Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op.
13 Ons is nie soos Moses wat sy gesig met 'n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was.
14 Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo.
15 Maar vandag nog, elke keer as die wet van Moses voorgelees word, is daar 'n sluier oor hulle verstand.
16 Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.”
17 “Die Here” beteken hier “die Gees” en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.
18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.