5 Toe ons in Masedonië gekom het, het ons geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge.
6 Maar God wat die neerslagtiges opbeur, het ons ook opgebeur deur die koms van Titus,
7 en nie net deur sy koms nie, maar ook omdat julle hom opgebeur het. Hy het vertel van julle begeerte om ons te sien, en dat julle jammer is oor wat gebeur het en my nou ywerig verdedig. Dit alles het my nog blyer gemaak.
8 Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. Miskien was ek tog jammer toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het, al was dit net vir 'n kort rukkie.
9 Nou is ek egter bly, nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het. Julle was immers hartseer soos God dit wou hê. Ons het julle dus in geen opsig benadeel nie,
10 want droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei, en daaroor was niemand nog ooit jammer nie. Daarteenoor bring droefheid uit wêreldse oorwegings die dood.
11 Kyk net wat die ervaring van droefheid volgens die wil van God aan julle gedoen het. Nou is daar by julle erns; meer nog, daar is verantwoording, verontwaardiging, ontsag, verlange, ywer en bestraffing van die kwaad. In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is.