2 Die dier wat ek gesien het, het soos 'n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van 'n beer en sy bek soos dié van 'n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.
3 Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop.
4 Die mense het die draak aanbid omdat dit hy is wat die gesag aan die dier gegee het. Hulle het ook die dier aanbid en gesê: “Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer?”
5 Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.
6 Hy het teen God begin laster, hy het God se Naam en sy woonplek en dié wat in die hemel bly, belaster.
7 Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
8 Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die skepping van die wêreld af geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie.