1 Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe.
2 En ek het 'n geluid uit die hemel uit hoor kom wat soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer geklink het. Die geluid wat ek gehoor het, was ook soos dié van siterspelers wat op hulle siters speel.
3 Hierdie mense sing 'n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie.
4 Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam.
5 Uit hulle mond het daar nooit 'n leuen gekom nie. Hulle is onberispelik.
6 Toe het ek 'n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het 'n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig,
7 en hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”