2 Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid.
3 Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!”
4 Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?”Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink.
5 Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word.
6 Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.”
7 Nadat die engel wat met hom gepraat het, weggegaan het, het Kornelius twee van sy huisbediendes en een van sy lyfwagte, 'n godsdienstige soldaat, geroep.
8 Hy het hulle alles vertel en hulle na Joppe toe gestuur.