26 Maar Petrus het hom laat opstaan en gesê: “Staan op! Ek is self ook maar net 'n mens.”
27 Terwyl Petrus met Kornelius praat, gaan hy die huis binne, waar hy baie mense bymekaar aantref,
28 en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie.
29 Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.”
30 Kornelius antwoord: “Vier dae gelede so teen drie-uur die middag was ek in my huis besig om te bid. Toe staan daar skielik 'n man met blink klere voor my,
31 en hy sê: ‘Kornelius, God het jou gebed verhoor en gelet op wat jy vir die armes doen.
32 Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon, wat ook Petrus genoem word, daar haal. Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.’