17 Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”
18 Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”
19 Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie.
20 Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het.
21 Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.
22 Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur.
23 Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly.