1 In Ikonium het Paulus en Barnabas op dieselfde manier opgetree. Hulle het weer na die Joodse sinagoge toe gegaan en daar gepreek, met die gevolg dat 'n groot aantal Jode en Grieke gelowig geword het.
2 Maar die Jode wat nie die boodskap wou aanneem nie, het die gemoedere van die heidene opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits.
3 Ten spyte hiervan het die apostels 'n geruime tyd in die stad gebly en in vertroue op die Here onbevrees gepreek. Die Here het ook die boodskap van sy genade bevestig deur die apostels tekens en wonders te laat doen.
4 Die inwoners van die stad was verdeeld, party vir die Jode en party vir die apostels.
5 Die heidene en die Jode saam met hulle leiers het egter oproerig begin word en wou hulle aanrand en stenig.
6 Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en omgewing gevlug. Dit was twee stede in Likaonië.