23 Verlede nag het daar 'n engel aan my verskyn van die God aan wie ek behoort en wat ek dien.
24 Die engel het vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.’
25 Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het.
26 Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand.”
27 Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom.
28 Hulle het 'n dieplood uitgegooi en 'n diepte van ses en dertig meter gekry. 'n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter.
29 Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word.