6 Daar het die offisier 'n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit.
7 Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar.
8 Ons het met moeite langs die kus op gevaar en 'n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.
9 Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe:
10 “Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.”
11 Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het.
12 Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was 'n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê. Daar sou hulle kon oorwinter.