1 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was 'n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan.
2 Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.
3 Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens.
4 Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5 “Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan.
6 Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.