1 Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom,
2 en Hy het hulle geleer en gesê:
3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.
5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.
6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.
7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.